|
Die ander motte is dom en dwaas, Maar ek sal vér van
die kers af bly; Hier vér uit die skemerte sal ek kyk, Hier vér
is dit veilig en kyk is vry. Maar
ek hoef nie van éénkant net te kyk - Ek vlieg op dieselfde afstand
om, Dan weet ek van álkant af hoe hy lyk, Om beter te sorg om nie
nader te kom. My
sirkel was skeef en ingebuig, Maar dáár ook nog, waar ek naaste
was, Het niks gebeur - ek maak verniet My velling so groot en so vér
van die as. Die
wieletjie draai ál vinniger om, En die lig en die gloed word ál
groter genot: En die vellings word nouer ál rondom die as - En die
end van die wiel is die as van die mot. |